As kind het sy in die Strand kaalbas gehol op die strand vir wittes en met die berugte rooi kennisgewingborde, gedurende dieselfde tyd dat ek en my drie broers op die bruin “strand” links van Mostertsbaai tussen rotse en sloepe geswem het.
Sy lag oor hoe sy toe by die einste beach gesit en gelag het, die een voet in die wit en ander in die bruin kant.
Sy en haar man, oudonderwyser van Calitzdorp, sit oorkant my by ’n gewilde watergat in Harbour Island, Gordonsbaai, en vertel oor hoe hulle kaalbasfietsry nog groter wil maak. Kaapse klanke soos “djy” en “hieso” slaan nou en dan deur, want hulle is immers boorlinge van hier.