David Aubrey Samaai was die oudste van sewe seuns van John en Sophia Samaai van die Paarl. ’n Begaafde musiekonderwyser vir 44 jaar, ’n toegewyde skoolhoof vir 21 jaar, ’n koorleier vir 50 jaar, sy kerk se orrelis vir 60 jaar en die nierassige Suid-Afrikaanse tenniskampioen vir ’n ononderbroke 21 jaar.
Hy was die eerste swart Suid-Afrikaner wat kon kwalifiseer vir Wimbledon. David was 91 toe hy op 14 Junie 2019 oorlede is.
David se verhaal begin in Du Toit-straat 19 in die Paarlse middedorp. Dis die verhaal van ’n vreedsame gemeenskap wat in die beeldskone buurt bekend as die Ou Tuin op die oewer van die Bergrivier gewoon het. ’n Gemeenskap wat in harmonie met hul wit bure gewoon het. Dit is hier in die strate van die Ou Tuin waar David en sy broers tennis gespeel het, waar sy droom om eendag op Wimbledon te speel, begin het.