Universiteite moet hulleself afvra hoe hulle arm studente kan ondersteun om die siklus van armoede te breek terwyl hulle ook herinner word om terug te gee, skryf Leslie van Rooi.
Vroeër die week stap ’n student met ’n skaatsplank by my kantoor in. Hy kom sy afspraak na wat hy reeds voor sy eksamen bevestig het. Hy kom geklee in ’n baadjie en netjiese skoene en met ’n notaboek in die hand – gemasker en gepen.
Met sy eerste tree in my kantoor is dit duidelik dat hy hier is om ’n ernstige gesprek te voer. Sy eksamen, so klink dit, het goed verloop en nou kan hy weer fokus op ander sosiale kwessies wat hom na aan die hart lê. Gou word dit duidelik dat die betrokke student hard oor sake worstel juis omdat hy oorgehaal is om ’n verskil in ander se lewe te maak.