Met Justin Trudeau, Kanadese premier, wat vandeesweek ’n staat van beleg ingestel het om voortgesette betogings teen verpligte koronavirus-inentings en -maatreëls in sy land te beperk, het dié liberaal demokratiese middelmoondheid ’n stryd ter wille van ’n nuwe globalisme teen sy burgers begin.
Die Kanadese federale regering het ’n bevel uitgereik wat finansiële instellings magtig om dienste aan klante op te skort indien daar ’n vermoede is dat ’n bankrekening vir die finansiering van betogings aangewend word. Banke moet ook hul verhoudings met betogers hersien en kan rekenings sonder ’n hofbevel bevries of opskort. Dié bevel formaliseer die skarefinansieringsplatform GoFundMe se weiering om miljoene dollar wat vir die Kanadese vragmotorbestuurders se “vryheidskonvooi” ingesamel is, uit te betaal.
Dit word al ’n geruime tyd voorsien dat regerings in liberale demokrasieë in die internasionale golf van outoritarisme kan begin om mense toegang tot hul bankrekeninge te weier ten einde pandemie-wette af te dwing. Die regeringsbevel aan Kanadese banke het dié vrees bewaarheid.