Iemand moet dalk net ’n nota oor pres. Cyril Ramaphosa se lessenaar stoot met die volgende woorde: Wanneer jy in ’n gat is, hou op grawe.
Dit is seker maar Ramaphosa se reg om hom tot die konstitusionele hof te wend oor die verdoemende Phala Phala-verslag, maar hy gaan eerstens nie ongeskonde uit hierdie skandaal kom nie en tweedens het hy nou ’n waagstuk aangegaan om die verslag van oudhoofregter Sandile Ngcobo op hersiening te neem.
Stem die konstitusionele hof saam met Ngcobo, is dit koebaai meraai met Ramaphosa. Dan kan hy maar sy iPad toeklap en sy kantoordeur in die Uniegebou agter hom toetrek. Binne die ANC-kamp is daar groot kommer oor Ramaphosa se skuif om die konstitusionele hof te nader. Selfs van sy getroue bondgenote het laat val dat dit voortydig en ’n enorme dobbelspel is. Een van die groot bekommernisse is dat Ngcobo nie verniet ’n hoofregter was nie en ’n gerekende juris is. Dan is hy bygestaan deur regter Thokozile Masipa, wat met gravitas spog, asook adv. Mahlape Sello, wat haar juridiese spore verdien het. Die gevoel is dat die art. 89-paneel, wat die ondersoek na Phala Phala gedoen het, grondige bevindings gemaak het en dat die konstitusionele hof die saak gaan terugverwys na die parlement.