’n Moderne gehoorapparaat sal jou lewe verryk en moontlik selfs help om ’n slang in jou kattebak te identifiseer, skryf Rhynie Greeff.
Ek beskou mensgemaakte produkte as verlengings van onsself of van die natuur om ons.
’n Skoen is ’n verlenging van jou voet. Paaie verleng ons bene. Ons klere is verlengings van ons vel – dis nou vanaf daai bostuklose meisie op die strand se skrapse kelderverdieping-genadelappie tot ’n poolreisiger se pelse. ’n Megafoon verleng jou stem. Netwerk24 en die koerante verleng menslike storievertellery. Jou elektriese waaier verleng die wind. Jou hoed en sambreel is verlengings van bome. Die woorde sombrero en umbrella verwys immers in Spaans en Italiaans na skadu. Die oermens se vuur was ’n verlenging van die son. Met verlengings van onsself en ons natuur verryk ons ons lewe.