’n Mens wonder of ons in die toekoms, as ons oor historiese datums gaan praat, gaan verwys na voor Covid en ná Covid. Ek moet sê, al waarvan ek vandag seker is, is my onseker verlede. Ewenwel, dis eers in hierdie amperse ná-Covid-tye wat ’n mens, soos ná ’n verwoestende storm, kan terugkyk om die skade onder oë te neem.
Op die aandelebeurse oneindig baie verloorders, maar dan weer ’n Bezos en Musk, selfoonmaatskappye en die Zoomers wat in dié droewe tye net nóg fabelagtiger stinkryker geword het en eintlik ’n killing gemaak het.
En dan die mooi winsverhaal van Ouma. Nie mý ouma nie, maar daai ouma wat, soos blikkieskos, drieminuut-noedels en bottelwater, deel is van die meeste huishoudings se oorlewingsvoorrade.