Dink vir ’n oomblik aan klein Ben se lang reis gister en vandag van Blinkwater na Ceres, terug na hul plaas in die mooiste Boland waar die reën en sneeu die week soos trane geval het.
Ons is almal saam met klein Ben Davin in die Kombi of bakkie waar hy styf op ma Wilmien se skoot sit en kyk na die Noord-Kaapse winterveld wat tot aan die einders voor sy ogies afspeel.
Op pa Frans se profielfoto op Facebook staan hy met blonde lokke en kaal lyfie tussen die honde agterop die bakkie. Dis ’n foto wat spreek van plaas en gesin en sonskyn en suiwer plesier. Jy kan die seuntjie uit sy magie hoor lag.