Sedert Covid-19 die wêreld in ’n wurggreep beetgekry het, hoor ons telkens die refrein: Die wêreld sal daarna nooit weer dieselfde wees nie. Die vraag is hoe pandemies samelewings omvorm.
In Suid-Afrika se geskiedenis van epidemies is daar twee tendense. Epidemies dra by tot die ontwikkeling van die openbare gesondheidstelsel en gee aan die owerheid die legitimiteit en stukrag om sloerende beleid kragdadig deur te voer.
Aan die oorkoepelende samelewingstruktuur en waardes maak pandemies minder verskil – benewens vir die demografiese skok wat dit meebring en die mate waarin weerlose gemeenskappe verder verswak word.