Die geveg om die siel van die Amerikaanse Republikeinse Party het pas ’n nuwe fase binnegegaan met die nederlaag van Liz Cheney, lid van die huis van verteenwoordigers, in haar poging om weer haar party se kandidaat in die verkiesing van aanstaande November te wees. Sy het sleg teen haar mededinger, Harriet Hageman, verloor.
Cheney, die dogter van die uiters konserwatiewe gewese visepres. Dick Cheney, het in haar ses jaar in die huis ’n onberispelike klassiek-konserwatiewe reputasie opgebou. Die rede waarom sy pas verloor het, is dat sy die gesig van die verset in haar party teen oudpres. Donald Trump geword het.
Vir mense soos Cheney is Trump nie konserwatief nie; hy is radikaal en populisties regs. Volgens hulle (reg of verkeerd) is hy ’n gevaar vir die klassieke Amerikaanse konserwatisme.