Hoe moet die Russiese inval in Oekraïne ten diepste verklaar word? Die begrippe magsug, kolonialisme en kulturele imperialisme word dikwels deur politieke ontleders voorgehou. Leopold Scholtz probeer self agter die kap van die byl kom.
Onlangs het die Amsterdamse oggendblad De Volkskrant ’n uitgebreide, fassinerende onderhoud met die jong Oekraïense sosioloog Joelia Timosjenko geplaas, waarin sy enkele opvallende perspektiewe oor die Russiese inval in haar land kwytraak. Een van die sentrale begrippe wat sy gebruik om die Russiese houding teenoor haar land te verduidelik, is “kulturele imperialisme”.
“Almal in die Weste kan Russiese skrywers opnoem, maar dis veral omdat die Russe die afgelope eeue die kulture van ander volke stelselmatig vertrap het: Hulle het skrywers vervolg, onderwys in die eie taal verbied en hele volke gedeporteer en uitgemoor.”