Suid-Afrikaners se vermoë om ’n uiters diverse omgewing te navigeer, is baie gesog oorsee. Maar, vra Leslie van Rooi, hoekom benut ons nie hierdie diversiteit op eie bodem nie?
Ek bevind myself by ’n universiteit aan die rand van ’n Franse dorpie buite Parys. Hier is dit somer, die Franse vriendeliker, die straatkafees vol. Enkelinge dra maskers, selfs ten spyte van ’n skerp toename in koronavirusgevalle.
By die universiteit woel dit. Ons is drie Suid-Afrikaners in ’n klas van net minder as 70. Vier ander Afrikane, komend van Malawi, Namibië en Nigerië, is ook in die klas. Die res kom van Indië, Latyns-Amerika, die Midde-Ooste, Europa, Turkye, Brittanje, Amerika en Australië. Dit is ’n belewenis soos min, met puik dosente en uitstekende klasgesprekke.