Maties wil nie NP van Wyk Louw van die kampus verban nie, hulle wil hom net meer inklusief maak, skryf Leslie van Rooi.
Die rubrieke van Heindrich Wyngaard en Pieter Malan oor die voorgestelde veranderings aan die granietrots op die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) het betrekking.
Hoewel die granietrots op die Tygerberg-kampus en die Afrikaanse gedig wat daarop aangebring is oor die jare tot baie vrae gelei het, het die US, anders as wat nou geglo word, nie besluit om die rots en/of gedig net te verwyder nie. ’n Openbare proses is aan die gang om die plek en simboliek van die rots en gedig te bepaal. Hierdie proses vind plaas binne die ruimte van ’n voorstel waar die rots ’n nog sterker simboliese plek sal kan inneem en waar dit omring sal word deur gesegdes uit verskeie tale, waaronder Afrikaans, Kaaps en Moesliem-Afrikaans.