Binne ’n enkele naweek het nóg ’n urineervoorval plus ’n dubbele tragedie die Universiteit Stellenbosch (US) getref. Leslie van Rooi skryf oor die "puin" en die rou.
Op ’n universiteitskampus is dit byna ’n gegewe dat jy nie verbaas moet wees as ’n nagrus ruimte laat vir wêrelde om, wyl jy slaap, te skuif nie. Soms gaan slaap jy met gedagtes van die dag wat nog sluimer en met ’n verstaan van wat moontlik in die komende dag kan gebeur. En dan net om wakker te word en te besef die konteks van die dag sal heeltemal anders wees. Dit is gelyk die makliker en moeiliker deel van ’n kampusritme soos die een van die US.
En só was dit Vrydagaand. Ná ’n lang week het ek gaan rus met die idee dat die naweek tog ’n mate van rus sou bring. Die finale eksamens was toe immers om die draai. Maar teen die Saterdagmiddag was alles weer anders. Ons kon in ons lywe die puin, frustrasie en kwaad aanvoel van nóg ’n urineervoorval. Die onbegryplike wat nou al hoe begrypliker word. Soos voorheen was hier nog ’n erg besope student wat dit goedgedink het om in ’n ander kamer te stap en om op die besittings van ’n medestudent te urineer. En dit terwyl die stof nog nie gaan lê het oor twee ander soortgelyke gevalle nie.