Ons dorp het nie ’n fliek nie. Baie dorpe het nie flieks nie. Dis net dat ons dorp al van hér af ’n fliekdorp was. Nou is ons fliekloos.
Netflix en Showmax doen dit net nie vir ons nie. Jy kan maar sê dis ’n verdomming van kyk en ervaring. Wie sal Titanic op die klein skerm wil kyk, en hoe kan jy, die kyker, saam swiep en duik en vlug en skiet in Star Wars op jou klein skermpie?
Selfs, en veral Atavar wat Rotten Tomatoes, die fliek-meters, as die beste rolprent van afgelope tye bestempel, verloor byna alles van die groot ervaring op ’n klein skermpie.