Michael le Cordeur ontleed die matriekuitslae en verduidelik hoe die Klas van 2022 bo hul omstandighede uitgestyg het.
“Onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander,” het oudpres. Nelson Mandela gesê. Dis vanjaar 30 jaar sedert Mandela vrygelaat is en die land ’n nuwe politieke bestel betree het. Is ons onderwysstelsel inderdaad die bemagtigingsinstrument wat hy in die vooruitsig gestel het?
Om dié vraag te beantwoord, moet ’n paar ander vrae gestel word. Waarom is daar byvoorbeeld steeds ’n groot verskil tussen die uitslae van die onafhanklike skole (IEB) en dié van die staatskole? Waarom is daar steeds ’n reusagtige gaping tussen ryk en arm skole? Waarom moet leerlinge in townships en op die platteland steeds soveel berge uitklim en riviere oorsteek (letterlik en figuurlik) om net aan die basiese vereistes vir skoolgaan te voldoen? En het die onderwysstelsel dit in 30 jaar reggekry om geslagsgelykheid en armoede te verbeter?