Toe hy onlangs in dieselfde vertrek sit as Joe Moses van die groep The Invaders, is ’n lewensdroom vir hom bewaarheid. Nou moet hy nog net die twee oorblywende lede van die groep op dieselfde verhoog kry, skryf Willem Fransman Jr.
Verlede Vrydagoggend net ná tien stop ons met ’n huurmotor voor ’n eenvoudige munisipale rooibaksteenhuis in Abbottstraat in die Gerald Smit-woonbuurt in Uitenhage.
Dít is die wêreld van die nou vergete maar eens beroemde orkes, The Invaders. Ons staan voor die deur van die hoofkitaarspeler, Joe Moses. In ons geselskap is Jerry Watt, die leier van ’n ander, amper ewe bekende orkes, The Rockets. Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk, en Villa Brown, ook ’n musikant uit eie reg, is ook daar.