Anton van Niekerk bring hulde aan Hennie Rossouw, ‘een van die skerpste, oorspronklikste en invloedrykste intellektuele wat die land en die Universiteit Stellenbosch (US) opgelewer het’.Prof. Hendrik Willem (Hennie) Rossouw is op 9 Januarie in die ouderdom van 88 jaar weens ’n gevorderde stadium van Parkinson se siekte oorlede.
Rossouw is gebore op 7 Desember 1933 te De Rust, naby Oudtshoorn, en matrikuleer in 1953 aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Hy behaal ses onderskeidings in matriek en verwerf die eerste plek op die Kaapse merietelys. Hy skryf in 1951 in vir die graad B.A. (Admissie) aan die Universiteit Stellenbosch (US) en behaal in 1953 dié graad (met hoofvakke Grieks, Latyn en filosofie), asook ’n meestergraad in filosofie (1955), die Kandidaatsdiploma van die Teologiese Seminarie te Stellenbosch (1956) en B.D. (1957), almal cum laude.
In 1958 vertrek hy na Nederland waar hy sy teologiese studie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam voortsit. Hier behaal hy ’n doktorsgraad in teologie in 1963 summa cum laude.