Sedert haar pa se dood dink Willemien Brümmer dikwels aan haar pa se “spookstorie” oor ’n grou kat in Bremen. En toe, die nag voor die verassing, hoor sy asem en die ligste suising in haar ore . . .
’n Week ná my pa se dood gaan grawe ek twee koffers beskilder met wit katte uit ’n instapkas langs die spens.
Die een, ’n bonkige groene, het ek self jare gelede gekoop. Toe ek destyds daarmee by my ouerhuis aankom, het my pa op sy tydsame manier sy pot wit verf uit die buitekamer gaan haal, die koffer op die tuinpaadjie staangemaak en ses katte daarop geskilder.