Pleks dat ek nou anderdag met hanekraai die foon optel en my seun gelukwens met sy 31ste verjaardag, gaan verstik ek sowaar aan my geliefde filterkoffie. Dis eers toe dat ek verstaan waarom my oupa donkiejare gelede verkies het om sy boeretroos, tot ergernis van Ouma, uit ’n piering op te slurp.
Die rede? Ene Misheck Nyandoro, ’n 61-jarige Zimbabwiër. Dese laventelhaan het mos omtrent drie keer soveel kinders as wat hy somers agter sy rug het: 151, om presies te wees.
Dan is hierdie spruite nog afkomstig van niks minder as 16 vroue nie. En net om vir die wêreld te wys dat hy sommer nog baie huppel in sy stap het, trou hy binnekort met Eva nommer 17.