Iemand vra my of ek die dae onthou toe paartjies nog in kerke getrou het. Die resepsie in die kerksaal langsaan? Resepsie! Dié woord is so oud soos die tyd self. Maar ja, ek onthou!
Troues was nog altyd groot gedoentes. (Het die staat van inperking baie paartjies, en hul ouers, van bankrotskap gered?) Die ou dae se troues in kerke en resepsies in kerksale is verby. Was dit nie vir inperkingsmaatreëls nie, het ons seker nog groot troues gehad. Sommige huwelike was rooitapytgeleenthede. Onthále. Bankette. En daarmee bedoel ek: geld.
Agter my masker snak ek as ek hoor wat huwelike deesdae kos. Blykbaar meer as ’n groot motor. ’n Trourok in die tienduisende en dan is dit doodgewoon misses Sarie van Oudtshoorn se lapwerk. ’n Ontwerper van die stad, met ’n náám, vra drievoudig meer. Hieraan moes ek gedink het toe my dogter die dag gebore is. Maar watter pa doen dit?