My kind, ek kyk na jou en ek wonder hoe gaan jou wêreld oor 20 of 30 jaar lyk. Dan gaan jy my ouderdom wees. Ons lewens was vol wonderlike ervarings van nuwe dinge. Ek het gehoop dat joune net so wonderlik gaan wees, maar toe lees ek wat my geslag, en dié voor ons, alles aangevang het.
Dit het seker begin met die uithaal van bome. Ons woude is gestroop om hout te kry vir huise, spoorlyne, myne en meubels. Vandag word sowat 7 miljoen ha bome per jaar gestroop, word meer as 2 miljoen bome per minuut afgekap!
Die ontdekking van goud en diamante word met groot gejuig in ons land begroet! Suid-Afrika floreer op die inkomste uit goud, yster, steenkool en uraan. Honderd jaar later kom ons agter ons het hiermee ons grond, riviere en lug onherstelbaar besoedel. Ons mense sterf omdat hul longe beskadig is deur asbesstof en gasse vanuit skoorstene. Ons fabrieke en kragopwekkers blaas egter steeds giftige gasse die lug in omdat ons elektrisiteit en ander produkte wil hê.