Die name wat boere in die 19de eeu aan plase in die Zuid-Afrikaansche Republiek gegee het, vertel ons meer van hul fisiese en geestelike omgewing.
In 1904 is H.F. Marriott se Alphabetical Index to Farms of the Transvaal gepubliseer, gegrond op die 1899-Jeppekaarte van die ZAR.
Plaasname wat die boer se gemoed weerspieël, trek onmiddellik die aandag. Langgewacht (Wakkerstroom-distrik) of Tochgekregen (Bloemhof) dui die begin van sukses ná moeilike jare aan. Was dit dalk ’n suksesvolle boer wat kon terugkyk en sy plaas Kleinbegin (Zoutpansberg) doop?