Wie gaan Suid-Afrika kies? ’n Moorddadige Russiese regime wat sy buurland ingeval het? Of die VSA, wat enige land boelie wat nader aan Rusland of China beweeg? Met die Russe het Suid-Afrika ’n langdurige verhouding. Met die VSA is miljoene rande se handelsooreenkomste op die spel.
Die kwessie het reeds na vore begin tree toe die Internasionale Strafhof ’n lasbrief uitgereik het vir die inhegtenisneming van pres. Wladimir Poetin van Rusland. Poetin is genooi na die Brics-beraad in Augustus in Suid-Afrika. As ’n ondertekenaar van die Roomse statuut van die Internasionale Strafhof behoort Suid-Afrika Poetin by sy aankoms hier in hegtenis te neem, maar dít wil pres. Cyril Ramaphosa se administrasie nie doen nie omdat Poetin as ’n bondgenoot beskou word.
Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het reeds verklaar dit gaan “prakties onmoontlik” wees om Poetin in hegtenis te neem sonder om betrekkinge met Rusland onder druk te plaas en die land in gevaar te stel. Lamola meen as Poetin wel besluit om die Brics-beraad by te woon, gaan hy nie “in ’n gewone vliegtuig met min beskerming” opdaag nie. “Waar moet ons hom in hegtenis neem?”