Die man wat deur die ANC voorgehou is as die een wat korrupsie ’n nekslag gaan toedien, is in groot moeilikheid. ’n Paneel onder voorsitterskap van oudregter Sandile Ngcobo wat ondersoek ingestel het na die Phala Phala-skandaal, het bevind Ramaphosa kan moontlik in ’n staat van beskuldiging geplaas word.
Gaan Ramaphosa self besluit om opsy te staan totdat alle ondersoeke oor die saak afgehandel is? Of sal hy, soos die meeste ANC-leiers, hom tot die hof wend om beroepe tot verantwoordbaarheid vir so lank as moontlik af te weer?
Die paneel se verslag is net die eerste stap in die proses om die president in ’n staat van beskuldiging te plaas en die paneel bind Ramaphosa nie om te bedank nie. Om ’n president uit sy amp te verwyder, is daar drie stappe: ’n voorlopige ondersoek deur ’n paneel, ’n volle ondersoek deur ’n komitee en derdens ’n debat in die parlement oor of die president verwyder moet word, gevolg deur ’n stemming daaroor.