Vandeesweek het gemoedere weer hoog geloop as gevolg van uitsprake in twee hoëprofiel-hofsake.
Oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners het soos te wagte gal gebraak toe die appèlhofregters in Bloemfontein beslis het hy moet by die tronk aanmeld om die res van sy 15 maande tronkstraf uit te dien. Nóg ’n bitter pil om te sluk vir sommige Suid-Afrikaners is dat Zuma, ’n vryheidsvegter, dié nuus gekry het op dieselfde dag dat Janusz Walus, moordenaar van die anti-apartheidsaktivis en SAKP-leier Chris Hani, gehoor het hy kan op parool vrygelaat word.
Die konstitusionele hof het gelas dat Walus, wat sedert 1993 tronkstraf uitdien, binne tien dae op parool vrygelaat word. Walus, wat lankal vir parool in aanmerking kom, het voorheen verskeie onsuksesvolle aansoeke daaroor ingedien.