Enoch Godongwana, die minister van finansies, is ongetwyfeld in sy noppies met die pragvertoning van Suid-Afrika se handelsbalans in die eerste kwartaal van die jaar.
Danksy die hoogste uitvoersyfer óóit, gaan die handelsoorskot van krag tot krag, ten spyte van ’n stewige toename in invoer. Laasgenoemde is ook glad nie slegte nuus nie, aangesien dit in ’n groot mate aangevuur is deur hoër invoer van masjinerie en toerusting, wat kernbelangrik is in die strewe na groter investering, insluitende die regering se verbintenis tot die uitbreiding van die land se infrastruktuur.
Diegene wat vroeër vanjaar ’n einde aan die opwaartse fase van die supersiklus in produkpryse voorspel het, kyk nou op hul neuse, aangesien die pryse van verskeie van die land se vernaamste uitvoerprodukte dié jaar verder gestyg het. In die eerste kwartaal vanjaar het uitvoer R458 miljard beloop, byna 13% meer as in dieselfde kwartaal verlede jaar.