Een van die veelseggendste berigte van die afgelope week oor die oorlog in Oekraïne was dat Rusland nou wapens en ammunisie van – wag daarvoor – Noord-Korea koop. Dít omdat sy eie voorraad opraak.
’n Tweede berig wat daarmee saamhang, is dat die Russiese weermag spartel om genoeg vlees en bloed aan te trek om as kanonvoer in Oekraïne te dien. Die Russiese mannekrag is eenvoudig nie voldoende nie.
Wat die implikasie hiervan aan die front is, blyk uit ontledings wat wys dat die Oekraïense teenoffensief by die stad Cherson relatief suksesvol verloop. Die Russiese magte wat die stad beset, is van hul eie grondgebied afgesny deur die rivier Dnipro.