Hy voel gekwets dat minderhede ook uiteindelik verteenwoordig word in kinder- en jeugboeke, want randfigure is nou glo die norm, skryf Hennie van Coller in ’n onlangse meningstuk. Verhale van sterk manne, dít is wat seuns en meisies in boeke moet lees.
Blykbaar word die “funksionele gesinne” afgeskeep. Soos Van Coller hulle noem, “die hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot soos honderdduisend ander gewone mense hul bes doen om eties en sinvol te lewe”.
Dus, lewe die ander mense nie sinvol en eties nie? Is hulle wanfunksioneel? En wie is hierdie ander mense wat nie hard werk en ook liefdevolle ouers is nie?