Een van die vroegste opdragte in God se skeppingswerk was dat die aarde bome sal uitspruit wat vrugte dra met saad daarin.
Die afgelope weke het die gru-gebeure nadat seuns vrugte uit iemand se erf gepluk het, skokgolwe deur die land gestuur. Die ovaalvormige vrug met sy gladde rooigroen skil, soet, sappige oranjegeel vleis en groot, effens harige pit, het meteens ánder beelde opgeroep as waarmee ons dit normaalweg vereenselwig. Ongeloof, woede en hartseer. ’n Bitter smaak in die mond.
Ek herinner myself aan beelde uit my kinderjare, toe ons op snikhete somersdae jillende onder die sproeiers oor die grasperk gehardloop het met ’n mango in die hand terwyl taai oranje watervoortjies teen ons voorarms afdrup. Later sou ons die groot pitte afwas, droog in die son en ogies inkerf. Uitbundig lag omdat die pitte kompleet soos oorgroot muise lyk in ons vrugbare verbeelding.