Ai, die arme Fikile. Dis Paasnaweek en in sy hoedanigheid as minister van vervoer is dit sý ondankbare taak om oor padveiligheid te praat. Meer ondankbaar as gewoonlik omdat die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) die afgelope week kwaai kritiek uitgespreek het oor buffelagtige blouligbrigades.
Die gevolg was dat minister Mbalula se padveiligheidspleidooie baie genoop het om op sosiale media terug te kap: Gaan praat met jou blouligbrigade voordat jy met óns praat.
“Blouligbrigades is, eenvoudig gestel, ’n bedreiging vir ander bestuurders,” lui die AA se verklaring. “Daar is groeiende anekdotiese bewyse dat die bestuurders aggressief teenoor ander padgebruikers is, dat hulle baie vinniger jaag as die spoedgrense, dat hulle op gevaarlike wyse bane kruis en dat hulle ander padgebruikers minag.”