Op ’n pragtige lentedag in die “mooiste, mooiste maand” is ek onderweg na die St. Vincent-laerskool in Koelenhof vir die inwyding van ’n ablusieblok. Hoewel ons op vlak 1 van inperking is en ek steeds onnodige sosialisering vermy, kon ek dié geleentheid nie misloop nie. Gewapen met ’n masker en ontsmettingsmiddel kom ek by die Katolieke skooltjie buite Stellenbosch aan. Daar’s belofte van reën in die lug: Dalk showers of blessing?
Die Covid-19-pandemie het opnuut Suid-Afrikaners se aandag gevestig op die sowat 3 000 skole wat steeds aangewese is op puttoilette. Oor die dawerende stilte van onderwysvakbonde oor dié misdaad teen onderwysers en leerlinge swyg ek. Oor ministers wie se werk dit is om te sorg vir water en toilette by skole, kan ek egter nie stilbly nie. Dit is blatante pligsversuim en ’n aantasting van mense se menswaardigheid.
Die skool het slegs twee werkende toilette vir die nagenoeg 900 leerlinge gehad. Volgens die keuseteorie van William Glasser kan ons kies hoe om op uitdagings te reageer. Jy kan kla totdat jy blou is en hoop die regering sal eendag wakker skrik, of jy kan moue oprol en self iets doen. St. Vincent se hoof, suster Lucie, het die Het Jan Marais Fonds, waarvan ek ’n trustee is, genader vir hulp om ’n nuwe ablusieblok te bou en die trustees het die projek se waarde ingesien.