’n Minderwaardigheidsgevoel onder sommige swart Suid-Afrikaners en ’n meerderwaardigheidsgevoel onder sommige wit Suid-Afrikaners gaan ons nêrens bring nie, skryf Theuns Eloff.
’n Onlangse artikel van Johan Rossouw (“Lê durf aan die dag vir die nuwe Groot Trek”, Rapport, 15 Januarie) laat ’n mens diep dink. Hy gebruik André de Ruyter as voorbeeld om ’n nuwe perspektief op die soms brose verhoudinge tussen wit en swart Suid-Afrikaners te bring. Volgens Rossouw is De Ruyter een van vele Afrikaners wat nou tussen 47 en 57 jaar oud is wat “ja” gestem het om ’n einde aan apartheid te maak en wat saamgewerk het met swart landgenote om ’n sukses van die land te maak. Hy is egter ’n sondebok vir historiese probleme by Eskom gemaak, vir alle praktiese redes afgedank en uiteindelik vergiftig.
Volgens Rossouw is die rede hiervoor nie net korrupte netwerke en fossielbrandstofbelange by Eskom nie. Hy verwys na ’n 2022-boek van die Amerikaanse joernalis Eve Fairbanks wat wys op die twee kragte wat tans veg om die toekoms van die land: “enersyds die strewe na samewerking op voetsoolvlak, andersyds die kollektiewe minderwaardigheidskompleks waaronder vele swart Suid-Afrikaners gebuk gaan en waarvolgens die herstel van swart waardigheid daarvan afhang om alléén van die land ’n sukses te maak. Dit wil sê ook sonder die hulp van ons geslag Afrikaners wat wil saamwerk om van die land ’n sukses te maak.”