Die selfaangestelde wagters op die Sionsmure van politieke korrektheid het ’n nuwe potloodtoets wat hulle aanlê wanneer enige inisiatief bekend gestel word wat net lyk of ruik na Afrikaans: Jy moet eers berouvol en met neergeslane oë of op jou knieë verklaar “apartheid was ’n misdaad teen die mensdom”.
Net dan kan ’n projek soos Heindrich Wyngaard se Kaapse Forum (KF) die ja-woord kry. In beginsel verskil dit nie veel van die toets wat die xenofobiese moordbendes in die townships inspan om die “oortreders” te identifiseer nie.
Jy word gevra om in ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal die woord vir elmboog te ken. Druip die “verdagte” die toets, is hy of sy oombliklik in lewensgevaar.