As jy dink jy verstaan Suid-Afrika het jy bes moontlik nooit noukeurig opgelet nie, het Bill Keller, oudredakteur van die New York Times, ’n dekade of meer gelede oor die land geskryf. In die 1990’s was Keller ook sy koerant se korrespondent in Johannesburg.
Was jy dié week by die vergadering in Kaapstad waar die polisieminister, Bheki Cele, die gemeenskappe van Nyanga en Gugulethu te woord gestaan het oor hul klagtes oor sy polisiediens, sou jy nogal iets oor SA geleer het. Niks nuuts nie, eerder ’n herinnering daaraan hoe kompleks ons politieke en maatskaplike dinamiek steeds is.
Toe Ian Cameron van Action Society Cele met skerp vrae takel oor sy en die polisie se pligsversuim jeens, in dié geval, swart gemeenskappe, het Cele sy selfbeheersing totaal verloor. Skor krete van “Shut up!” en “Get out!” het uit sy borskas geskeur.