Daar’s nie veel wat die ANC nog nié gesteel het nie, lui die opskrif bo-aan ’n rubriek van die politieke joernalis Justice Malala einde Junie in Business Day. Buiten ’n verkiesing.
Malala skryf die Verkiesingskommissie (OVK) is die een instelling wat tot dusver buite die grypende kloue van die regerende party kon bly. Maar nou is daar ’n “kabaal” in die ANC wat die OVK in sy visier het, bepaald met die oog op die 2024-verkiesing – die RET-faksie.
Dis maklik om hulle af te lag as die “Jacob, Jimmy, Ace en Carl-kwartet”. Maar wat as gewigtige ANC-figure soos Zweli Mkhize, Lindiwe Sisulu en Nkosazana Dlamini-Zuma ingehaak saam met Jacob Zuma, Jimmy Manyi, Ace Magashule en “Camo” Carl begin marsjeer?