Die dag kan nie meer te ver wees wanneer die ANC se rasse-ideologie finaal swig voor die harde werklikhede van Suid-Afrika nie. Net soos die rasse-ideologie van die Nasionale Party en sy voorgangers roemloos geëindig het. En daar was ’n tyd toe niemand gedink het dít sou ooit gebeur nie.
Ideologie en die harde werklikheid kan soms vir tydperke saambestaan. Maar dan op ’n dag verander die trajek en die twee begin afstuur op ’n botsing.
Daardie botsing kom selde as ’n oerknal. Dis meestal ’n frustrerende, uitgerekte proses. Ideoloë laat vaar nie sommer die gelowe en oortuigings wat hulle tot “feite” verhef en verabsoluteer nie. Tot wanneer ’n infleksiepunt bereik word. Dan sal ideologie altyd die knie buig voor die objektiewe realiteit van empiries verifieerbare feite.