Die twee groot faksies in die ANC, noem hulle “Zuma” en “Ramaphosa”, is albei so desperaat om tot elke prys te wen dat hulle nie omgee om in die proses die moederliggaam te vernietig nie.
Dié siening van die politieke wetenskaplike Dumisani Tembe maal al heelweek in my kop nadat ek sy artikel in Weekliks gelees het. Tembe is geen hierjy nie. Ek lees hom al 25 jaar, toe hy nog Dumisani Hlophe geheet het. Tembe en Hlophe is albei familiename.
Sy artikel laat jou wonder. Die evangelie dat die belange van die ANC altyd swaarder weeg as enigiets anders, die land inkluis, is diep in die ANC ingebed. Jacob Zuma leef daarvolgens. Cyril Ramaphosa moet nog behoorlik op dié een getoets word. Hou die verwagting beskeie.