Paul Mashatile is ’n man op ’n missie. Die Gautengse ANC-sterkman het duidelik planne om in 2027 president van die ANC te word. Hy verstaan ook die mees basiese reël van die politiek – jy moet ’n magsbasis hê. En hy’s geduldig.
Veel vernuftiger as pres. Cyril Ramaphosa. Ná tien jaar in die topleierskorps van die ANC, die laaste vyf as president, het arme ou Cyril steeds geen duidelik omlynde volgelingskap in die ANC wat vir hom deur die vuur sal loop nie.
Hierteenoor het Mashatile al geruime tyd ’n provinsiale magsbasis in Gauteng, waar hy premier was, en vir twee termyne die ANC-voorsitter. Deesdae is hy ook aktief in die ANC se drie virtueel ideologiese faksies, te wete die Ramaphosa-groep, die RET (Ace Magashule en kie) en die ANC se eksterne vleuel wat handel dryf as die EFF.