Een van die statistieke wat rugby-ontleders gebruik, is hoeveel keer ’n span gedurende ’n wedstryd in die teenstanders se kwartgebied kom. En veral hoeveel van die besoeke in punte omskep word.
Hoewel die All Blacks internasionale rugby tot voor 2019 oorheers en die no.1-plek beklee het, was hulle ironies genoeg etlike jare die span met die minste besoeke aan hul teenstanders se kwartgebied. Die enkele kere wat hulle daar was, het hulle dit wel in punte omgeskep en dit het hulle die groot wenners gemaak.
Hoewel die Cyril Ramaphosa-presidentskap aan die begin gesukkel het om in die teenstanders (binne die ANC) se kwartgebied te kom, het dit tog die afgelope jaar of wat meermale gebeur, maar sonder dat dit benut is om die nodige punte aan te teken. En dit is Suid-Afrikaanse toeskouers se groot frustrasie.