Die hersiene taalbeleid wat die raad van die Universiteit van Stellenbosch vandeesmaand goedgekeur het, bied geleentheid om ’n samehorigheidsgevoel op die kampus te bevorder, skryf Deresh Ramjugernath.
Gesprekke oor taal by en oor die Universiteit Stellenbosch (US) is dikwels vurig. Taal is immers deel van ons identiteit, herkoms en kultuur, en speel ’n groot rol in hoe ons sin maak van die wêreld om ons.
By ’n hoëronderwysinstelling word hierdie kwessies onder ’n vergrootglas geplaas namate jong volwassenes met die kernvrae van die lewe begin worstel en hulself voorberei vir professionele werksomgewings.