Die straatsmous met sy ruiker verestoffers, besems en wat nog als vang my oog net toe ek skeel-skeel die WhatsApp lees terwyl die verkeerslig vir die derde keer na rooi oorslaan: “So, wat is op jou verlanglysie?”
Dit is ’n besliste teken van hogere ouderdom as ’n mens vergeet jou verjaardag is oor minder dae as ’n hand se vingers. Nie omdat ’n mens nie wíl onthou nie – self blaker ek my ouderdom graag en luid uit – maar bloot omdat datums en geheue lank nie meer pasmaats is nie. Gooi by dié resep ’n baal vol pandemiewolle in die brein, en jy sit met ’n salige amnesie.
Wanneer laas het iemand my gevra vir ’n verlanglysie, wonder ek net toe verkeerslig na groen oorslaan en die verestofferverkoper besluit dis nóú die tyd om die straat oor te steek. Dis ’n gedoente, ’n wonderlike dans soos hy met die lang stele en vere en bondels wat-nogs die motors ontduik én sy balans hou. Hy doen dit soos ’n gesoute touloper met ’n glimlag wat om sy ore haak.