Dit het my opgeval dat daar onlangs op Netwerk24 ’n paar verwysings was na Martin Versfeld (1909-1995), gestorwe professor in filosofie aan die Universiteit van Kaapstad. Dit is ook opvallend dat dié verwysings kom in ’n tyd kort nadat ’n aantal prominente Afrikaner-intellektuele ook die tydelike met die ewige verwissel het.
Versfeld is een van die merkwaardigste mense tot nog toe wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet. Filosowe is dikwels nie konvensionele mense wat hulle verlustig in die alledaagsheid nie. Versfeld was die versinnebeelding daarvan.
In ons huidige tyd is mense geneig om die onkonvensionele sonder meer met ateïsme te assosieer. Dit was nooit die geval by Versfeld nie. Hy is grootgemaak as ’n NG-lidmaat. Sy intellektuele kennismaking met Augustinus (oor wie se werk hy ’n deskundige sou word) het van hom ’n Rooms-Katolieke lidmaat gemaak. Hy het ook sterk onder die invloed gekom van die Oosterse mistiek.