Môre vier ons Jeugdag. Dit is ’n dag waarop ons herinner word dat alle kinders in Suid-Afrika nie gelyk behandel is nie.
Daar is geglo dat swart kinders aan minderwaardige onderwys blootgestel kon word omdat hulle “anders” was – omdat hulle nie wit was nie. Dit was die begin van die einde van apartheid, maar ook die toediening van ’n langtermyn-knou vir Afrikaans, waardeur dit bekend sou word as “die taal van die onderdrukker”.
As ons mense as “die ander” beskou omdat hulle swart, gay of gestremd is, beteken dit dat daar ’n norm is waaraan hulle gemeet word – witheid of heteroseksualiteit of ’n gebrek aan gestremdheid. Hierdie proses van othering bepaal watter mense gemargina-liseer en uitgesonder word vir verwerping. Dink maar aan wat met die Jode onder Hitler se Nazi-regime gebeur het.