Dit was die week van die bom-brief. In so ’n brief op 3 Mei het Jessie Duarte, die Zuma-spioentjie wat skuil in die ANC-topses, Ace Magashule van sy skorsing ingelig as sekretaris-generaal van die ANC (met betaling). In ’n bom-brief van sy eie matig Ace hom toe aan om Cyril Ramaphosa as ANC-president te “skors”. Selfs gemeet aan die standaarde van die ANC was dié brief so absurd dat dit allerweë bestempel is as fopnuus.
Dis dalk ’n fop-op, maar Ace se brief was toe eg.
Of dié broedertwis sal uitloop op ’n skeuring in die ANC, ’n afskilfering (soos Cope of die EFF), of ’n skyn-eenheid van kil kaders ingeryg langs die krip is te vroeg om te sê.