Toe die histeriese regering van Brittanje Suid-Afrika op ’n reis-rooilys plaas ná die ontdekking deur ons weetgierige witjasse van Covid-19 se soveelste variant, Omikron, was pres. Cyril Ramaphosa dadelik gereed met ’n logika-les.
“ ’n Mens vra: Waar is die wetenskap?” het Ramaphosa op Twitter gevra. “Hierdie lande vertel ons nog altyd ons moet ons besluite grond op die wetenskap. Maar wanneer die tyd kom vir hulle om dit self toe te pas, doen hulle dit nie, en dan wend hulle hulle tot eiebelang.”
Sê hulle, Cyril. En vat so, Boris. Die rooilys het Suid-Afrikaners met goeie rede woedend en moedeloos gemaak, veral toe dosyne lande in slaafse navolging van die bang Britte vlugte na en van Suid-Afrika verbied nog voordat enigiemand geweet het of Omikron gevaarlik of dodelik is.