Dit is opvallend dat dit sedert Maandag se Taliban-oorname in Afganistan slegs mans is wat sê 2021 se Taliban is nie dieselfde barbare wat in 2001 daar ontsetel is nie. Dis mans wat pleit dat ons die “nuwe” Taliban ’n kans moet gee om hulself te bewys; wat die Taliban se beloftes oor gelykberegtiging vir vroue ernstig opneem; en histerie van Westerlinge en angsbevange Afgane wat aan vliegtuigwiele klou om landuit te vlug as ietwat “oordrewe” tipeer.
Die Taliban, u sien, hou hulle nou as ’n gematigde beweging voor: Op ’n mediakonferensie Dinsdag in Kaboel het Zabihoellah Moedjahid, die Taliban-segsman (uiteraard ’n man), belowe die Taliban sal amnestie toestaan aan alle Afgane wat die Amerikaners gehelp het; nie ’n broeiplek vir terroriste word nie; en onafhanklike media toelaat om aan te hou bestaan. By ’n kermis in die stad het bebaarde Taliban-vegters probeer wys hoe skadeloos hulle is deur op stampkarretjies te ry en uitbundig te lag, terwyl Taliban-leiers beloof het om vroueregte te respekteer “binne die norme van Islam”.
Laasgenoemde voorbehoud sal dalk skrale troos bied aan die vroue van Afganistan, wat selfs onder Amerikaanse besetting die tweede slegste plek in die wêreld was om ’n vrou te wees, volgens die 2019 Women, Peace and Security Index, wat 11 maatstawwe gebruik om te meet hoe bemagtig vroue is. Al die lande wat die slegste presteer, het groot Moslem-meerderhede.