Met haar aanstellerige aanval op die regbank en Ramaphosa-regering het die struggle-prinses Lindiwe Sisulu ’n trotse ANC-tradisie voortgesit om die regering van die dag te kritiseer asof van buite af – asof sy al jare in die opposisiebanke sit en magteloos toekyk hoe die land die afgrond in bestuur word.
Op sy beurt het Ramaphosa ’n tradisie van ruggraatlose swye voortgesit.
Op die fopnuus-webwerf IOL – tuiste van kamma-berigte oor die enigmatiese Tembisa-tienling en ander fabels – het Sisulu naamlik nie net die Grondwet as ’n oorsaak beskryf van hardnekkige swart armoede en grondloosheid nie, maar ook houe gemik na swart miljardêrs wat vreet by die trog van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en dan van die armes vergeet.