In die Brits-Indiese skrywer Salman Rushdie se roman The Satanic Verses, waarvoor ’n hondsdol ajatolla hom in 1989 ter dood veroordeel het, sê die digter Baal digters behoort “die onnoembare te noem, bedrieërs te ontmasker, kant te kies, argumente te begin, die wêreld te help vorm en te keer dat die wêreld aan die slaap raak”.
Vandag, aan die einde van agt en ’n half jaar as redakteur van Rapport, tref dit my dat ’n Sondagkoerant ook streef om minstens dit te doen: Om heilige koeie te slag . . . en dan lekker te braai.
Dit is ’n rol wat nog altyd met erns bejeën word in Rapport se nuus- en meningsblaaie, “afdelings” wat dit dalk ouderwets is om te skei in ’n era waar nuus en polemiek so ineenvloei. Soveel van wat vandag “nuus” is, is immers gemarineer in ideologie, terwyl soveel menings mank gaan aan die feite.