Die ANC se bestuur van die kragkrisis behoort die party op 1 November onverkiesbaar te maak. Tog sal miljoene kiesers môre ANC stem. Vir hulle seëvier hoop op ’n ANC wat beter regeer oor hul ervaring van hoe die ANC werklik regeer.
Wanneer kiesers stem op grond van hoop pleks van ervaring wen die ANC terwyl die DA verloor. Wanneer kiesers egter stem op grond van ervaring pleks van hoop – data eerder as drome – sukkel die ANC.
Kiesers wat hulle deur die data laat lei, weet dat die ANC volgens Netwerk24 en News24 se Buite Orde-indeks agt van die land se vrotste 10 munisipaliteite bestuur (die ander is IVP), terwyl die DA agt van die 10 bestes bestuur.